Tuesday, 29 May 2012

My lewensverhaal in ‘n neutedop

 
Die mense sê: “Met grysheid kom die wysheid”! Wel, of dit so is, is ‘n ander vraag…  Van kindsbeen af was ek ‘n buitemens. Kinderjare vakansies by Oupa Bonnie, Ouma Sarie, my ouers en broer Sarel - perdry, strooptyd, berge mielieblare uitklim, en dan weer afspring, by miedens afgly - met ‘n landing of twee op die nes van een van Ouma se weglê henne, koffie maal vir elke dag se drink, in die winter bad in die sinkbad in die kombuis met ‘n knetterende koolstoof en kerslig, staan in die kamerdeur, hardloop en duik in die bulsak wat knus om jou vou… 

Ek sit vandag en dink aan my “lewensverhaal” en besef met eens dat ek met absolute eerlikheid kan getuig dat ek oor niks in my lewe spyt is nie. Ek het verseker my lewe voluit geleef en die beste van elke saak gemaak. Mens lewe tog net een keer! En so deel ek graag van my staaltjies en verhaaltjies met julle…

Eerstens wil ek sommer begin deur te vertel hoe ek en my man ontmoet het. Ek en my man het saam by Transbank gewerk en ek kan julle verseker dat nie een van ons twee verwag het dat ons ons sielsgenote by die werk sou ontmoet nie…
Ek moes, toevallig, elke keer verby die manne stap om by die werk se argief uit te kom. Ek het male sonder tal daar verby gestap en besef dat hierdie een man my, sonder wegsteek, die heeltyd dop hou. Ek het my egter heel koel en kalm gehou en glad nie daaraan gesteur nie. En op ‘n dag, weer oppad argief toe, hoor ek net iemand sê: “Kom help my soek”. Dis al. Net so. Ek het ongeërg geantwoord en gesê: “Soek en jy sal vind”!
Amper vergeet ek van die insident – ‘n vrou wat saam my werk het op ‘n vroeër stadium vertel dat daar ‘n man was wat my op ‘n ‘date’ wou vat… En ja, julle het reggeraai… Dit was toevallig dieselfde man vir wie ek my so vererg het by die werk! En so was ek maar in die begin ‘n bietjie huiwerig en half skepties daaroor. Ek was op daardie stadium betrokke by ‘n modelkursus en wou dit as ‘n verskoning gebruik, maar ek het aan die man gesê dat ek besig is met ‘n sekretariële kursus… Ek wou tog nie aan hom erken dat ek by die modelkursus ingeskryf is om my selfvertroue op te bou nie! Ek wou net te graag ordentlik by ‘n vertrek kan instap sonder om oor my eie voete te val!
Ek het toe wel mettertyd ingestem om op die sogenaamde ‘date’ te gaan, met díe man, en ek moet erken dit was nogals heel aangenaam ten spyte van die feit dat ek selfs op die eerste date moes karstoot. Maar ek gaan liefs nie daarop uitbrei nie ;-).  
Ek het my trots toe nou maar gesluk, en erken ek is verlief op die man, en later is ons toe nou verloof. Die verlowing is egter ongelukkig na ‘n tydjie weer verbreek weens my hardkoppigheid… Later, op ‘n dag het hy trompop na my toe gekom en bloot gesê dat ons die komende Julie maand sal trou. Ek het egter geweier om voor die ouderdom van 23 te trou – dus is ons die 20ste Julie getroud, nadat ek my 23ste verjaarsdag op die 13de Julie gevier het!
Ek en my man het al soveel goeie herinneringe saam opgebou en doen verseker nogsteeds. Dit bring my sommer weer by ‘n “snaakse” gebeurtenis…
Ek en my man het vir ons seun in Amerika gaan kuier, waar ons toe Memphis toe was om ‘n Elvisuitstalling te gaan kyk. Met die aankoms by die museum het ons elkeen ‘n paar oorfone gekry om op so wyse die verkenning goed te kon hoor. Die oorfone het egter my ore erg geirreteer en daarom het ek dit eerder uitgehaal - ek kan mos sien, vir wat moet ek nou nog die goed in my ore ook hê? My man was heel tevrede met die oorfone in sy ore, maar hy het nie besef hoe hard hy praat terwyl hy sy oorfone in het nie…
Hy sê toe vir my dat ek my oorfone ook weer moet insit. En hierdie het natuurlik vir almal geklink en gelyk asof hy op my skree, dus het die hele vertrek stilgeraak en na ons toe gedraai en in ongeloof gestaar… Wat ‘n rare verleentheid was dit nou nie! Dit is sulke klein snaakse dingetjies wat ek goed kan onthou en waaroor ek nou nog kan glimlag…
Ek het vyf lieflike kinders, geseënd met vier dogters en een seun - Theallette, Illze, Cornè, Juandre en Kruger. My seun is die jongste en ek is seker daarvan dat indien my seun eerste gebore was ek nie nog kinders sou wou gehad het nie! Ore het hy gehad, maar luister, aikona! Ek het verseker al my dae met my seun gehad, maar dit is mos maar deel van ‘n seun se natuur om ‘n stoute handjie vol te wees.
Dit herinner my sommer nou dadelik aan ‘n spesifieke gebeurtenis waar ek my seun met my dogter se fiets op die plaas gejaag het. Die reël was dat my kinders net tot by die grootpad mag ry, en nie verder nie of daar sal straffies uitgedeel word. Maar so eendag, besluit my seun toe dat hy nie lus is om te luister nie… Ek spreek hom toe aan, maar hy maak oortjie toe en maak asof hy my nie hoor nie. Ek klim summier op my dogter se fiets en begin trap - my knieë amper verby my ore! Ewe skielik hoor ek net ‘n gelag. My dienswerkers het die hele storie dopgehou en dit hoogs vermaaklik gevind! Ten minste kon ek bietjie komedie aan iemand verskaf!
As ek nou moet terug dink aan toe my kinders nog jonk was, onthou ek veral die tye om die etenstafel. Met elke ete was daar vier “seisoene” wat om die tafel betrokke was en dus was mens nooit seker oor hoe die gemoed aan etenstafel sou wees nie… Die bakleiery, die laggery, somtyds die kiltes en die tergery! Ons as gesin was egter gewoond daaraan en kon eintlik net vir onsself lag daaroor, was niks nuuts vir óns nie...
Op ‘n dag kom kuier daar vriende van my kinders en toe ons aan etenstafel sit, was dit duidelik dat daar iets fout is, asof daar ‘n ongemaklikheid oor die koppe van die vriende gehang het. Toe ek hulle uitvra daaroor, het hulle net gsê: “Tannie, ons het nog nie regtig so iets beleef nie.” Die vier seisoene was duidelik drie seisoene te veel vir hulle!
Dit bring my sommer by ‘n soortgelyke voorval… ‘n Vriendin van my dogter het bietjie by ons huis kom kuier. Blykbaar het die dorpsmense haar vooraf gewaarsku dat indien die van Biljons nie voor haar baklei nie, is sy nie regtig “welkom” daar nie. En wraggies het dit toevallig gebeur dat ons gesin oor ietsie kleins vasgesit het terwyl sy daar gekuier het. Sy het my aangestaar met werklike deernis in haar oë, en vir my ‘n stywe drukkie gegee en hartelik bedank dat sy verwelkom in die gesin is. Ek het regtig nie so iets verwag om te gebeur nie, en het met verwondering en eintlik ‘n laggie in my hart haar teruggedruk. Dit is beslis ook een van daardie oomblikke van my lewe wat ek nie sommer sal vergeet nie!
Al hierdie gepraat van my kinders laat dwaal my gedagtes terug na my eie kinderjare. Vol storms - laerskooljare op Kroonstad. Pret op plot Riverside saam met broer Sarel: reisies  hardloop op 44 gelling dromme, klein varkies vang en popklere aantrek... Slimjan wat Sarel was, trek hy die sog se aandag af, terwyl ek agter in die hok moes klim, ‘n varkie gryp, en  laat waai met skreeuende varkie in die arms voor Ma sog my gewaar! Met trekkerbande het ons in die spruit gery wat na ‘n reën sterk gevloei het.
Ek onthou die onskuldige dae op die plaas wat ek saam my broer perd gery het. In daardie dae was dit natuurlik nog gehoort dat meisies net rokke mag dra. Nou hoe ry mens perd met ‘n rok?  Ouma Saar wat my kappie in my hare vaswerk sodat ek dit nie kan afhaal nie: want ‘n dogter moet mos nie ‘n songebruinde vel hê nie. Gelukkig het my liewe broer altyd een van sy langbroeke vir my uit die huis uit gesmokkel, wat ek dan skelmpies buite die huis in die stal aangetrek het, terwyl hy die kappie uit my hare los torring. Dan het ons te lekker saam perd gery! Wanneer die rit klaar was, het ek eenvoudig net weer vinnig my eie klere aangetrek, vinnig die kappie terug geplaas en die huis binne gegaan met ‘n effense skelm glimlag op my gesig.  Om saam met ‘n ouer broer groot te word, leer ‘n mens van selfstandigheid…
Ek het glad nie van rokkies gehou nie man! Hoekom sal ‘n mens nou rokkies wil dra terwyl langbroeke dan soveel gemakliker is? Dus het ek vir my spesiale rokkies gemaak – natuurlik met ‘n langbroek ingewerk onderaan. Ek moet sê, ek was ‘n slinkse duiweltjie – baie min mense het daarvan geweet. Ek moet ook erken dat ek nogal ‘n rebel was in my jongerdae en net so was my man ook een, ongelukkig… Nou dink nounet hoe is ons kinders! ‘n Pragtige, stoute samevoeging van twee rebelse ouers!
Hoërskool jare - fietsry, loshande teen bulte af. Nerwe wat soms waai. Netbal, volkspele, pret in die klas. In matriek moes ek afskeid neem van die black meraai… Skool toe ry met Ma se 19 – ou “Prefekkarretjie”. Dan die hele netbalspan oplaai, en die wat nie binne pas nie,sit buite op die trappie – klou vir lewe en dood, vasgehou deur die wat binne sit. 

As ek myself weer terugvat na my rebelliejare toe, is daar een of twee gebeure wat uitstaan. Ek onthou spesifiek dat ek eendag my ouers se kar “geleen”(dis wat ek dit genoem het, hulle het dit natuurlik “gesteel” genoem…) het om so bietjie rond te ry. Om my ontsnapping te kamoefleer, het ek eenvoudig net die toilet in die huis getrek en dan saggies by die huis uitgeglip. Maar soos die nootlot dit mos wou hê, is ek ongelukkig uitgevang en op heterdaad betrap - die terugkomslag was nie baie suksesvol nie!  Nou is daar nie ‘n toilet om te trek om sodoende suutjies in die huis in te glip nie…  Met die venster nie moontlik nie, diefwering voor, hoor Pa Jasper my, en vang my net daar met die sleutels in die hand! Wel matriek of te nie, hy het my kop goed gewas. Ek was in lekker groot moeilikheid!
Ons het ook soms swartkouse om ballone gedraai, wit kolle vir oë as die gesig gemaak en dan snags die strate ingevaar om mense skrik op die lyf te jaag. Glo my, die mense het gehol! Die menslike lewe het soveel meer vryheid as vandag se mense beleef. Mens kon toktokkie speel en in die strate rondloop sonder sorge, en sonder om bang te wees, buiten nou vir ons gemaskerde balonne natuurlik...
My broer was nou weer die rustige ene, het so groot liefde vir organisering gehad. Hy is ongelukkig alreeds oorlede. Ek wonder tot vandag toe nog hoe organiseer hy dinge daar Bo by ons Hemelse Vader. Ek onthou die dae wat boeta se maats kom kuier en daar nie genoeg ouens vir rugby of krieket was nie, en ek maar moes instaan. Ek was nie ‘n vrou wat vir enige iets teruggestaan het nie, en was nie bang vir ‘n sport of ‘n bal van geen aard nie. Dit herinner my weer dat ek net glad nie afhanklik van ‘n man is nie…
Eendag, in Alberton, ry ek met my Mercedes en toe besluit my wiel ongelukkig om pap te word. Ek het besluit, ek is mos sterk genoeg, en om dit dus self om te ruil. Ek draai toe die boude mooi netjies af, maar sukkel egter bietjie om die wiel uit te kry. Daar ontdek ek toe ‘n hammer in my kattebak en slaan toe met ‘n paar houe die wiel uit - rokkie en al(ja, ek het toe wel alter begin belê in rokkies dra....). Eweskielik sien ek net twee bene en my man wat daar staan en vra of ek ooit weet wat ek doen. Ek was toe sommer vies omdat hy net toekyk en nie eers sy hulp aanbied nie!
Ek glo vas dat dit die plaaslewe is wat my geleer het om dinge op my eie te doen en dus so selfstandig te kan wees. Ek onthou nou nog ook die dag toe ek die stoofplate moes vervang. Op daai stadium was my man in die weermag en dus moes ek maar op my eie regkom. Ek gaan koop toe die plate en ruil dit om. Dit is egter nie aldag so maklik om alles self te moet doen nie - en gelukkig het ek ‘n handleiding gehad wat my presies verduidelik het watter draadjie pas waar ;-).
My skoonma en pa het op ‘n stadium by ons vir ‘n rukkie gebly. Dit was nou vir jou regtig sports gewees! My skoonpa was ‘n man kort van draad. Hy het daarin geglo dat mens eers vroegoggend ‘n koppie tee móét drink voor jy kerk toe gaan…
Die een spesifieke Sondag was dit nagmaal. My skoonpa het sy teetjie gedrink terwyl die res van ons solank kerk toe was – hy kon soms so lank draai met sy tee in die hand. Ons het vir hom plek gehou, maar hy het ons nie gesien nie. Ongelukkig moes hy toe op sy eie, heel voor, in die kerk sit! Hy was baie kwaai daaroor, maar hy het verseker sy les geleer…
Hierdie oupa het toe ook onderonsies met die kinders... Die huis was altyd vol van die kinders se maats en soos dit maar gaan, is Oupa baie nuuskierig en kon nie die klomp alleen los nie.  Die seuns se taal was nou  nie altyd suiwer of sonder ‘n kragwoord of twee nie, waaroor Oupa hulle toe natuurlik moes aanspreek.  Op Kruger se vraag of Oupa dan nooit ‘n kragwooord gebruik het nie, sê Oupa hy gebruik wel donder en somtyds bliksem.  Kruger se antwoord:  “Oupa, my ma het my geleer, of dit nou ‘n groot vloekwoord of ‘n kleintjie is, vloek bly vloek en sonde bly sonde, groot of klein.”

Van oorsee kry ons toe die berig: Kruger gaan ook trou.  Toe is dit beplanning voor en agter, neem langer as ‘n jaar om die nodige fondse en reëlings onder die knie te kry.  Oupa Jas is intussen ook getroud en gaan woon in ‘n ouetehuis saam die nuwe vroutjie.  Die dag toe ons hulle gaan groet, het ek geweet dat ek hom nie weer gaan sien nie, en toe ons wegry het ek dit ook vir Boepie en Illze, gesê. Oupa het bly praat van die pers blommetjies...

Amerika, hier kom ons! Eers egter ‘n bietjie drama met vertraging van vlugte en die verpas van ons aansluitingsvlug na Amerika in Londen...  Die hotel waar ons oorgebly het... Sjoe, pragtig, luuks, maar deksels duur!  Uiteindelik is ons toe weer oppad en kry weer ‘n aansluiting in Cleveland na Michigan met ‘n binnelandse vlug.  Terwyl ons loop bespreekons die gebeure tot dusver in Afrikaans.  Een van die  lugwaardinne loop agter ons en spreek ons toe in Afrikaans aan. Stom verbaas verneem ons sy is van Pretoria! Ons het toe heerlik gesels. In die vliegtuig sien Boepie die loots is ‘n dame.  Baie ongemaklik vra hy toe vir Illze en my of ons dink dit is veilig. Die volgende oomblik toe neem die ander loots plaas.  Die dame van Suid-Afrika.  Boepie se oë het net gerek. Ek is seker hy het ‘n gebedjie opgestuur!

Alles het darm goed verloop en ons land veilig in Grand Rapiod.  Die wedersiens met Kruger kan nie een van ons beskryf nie... Jenny, sy verloofde, ontmoet ons toe vir die  eerste keer - wat ‘n pragtige mens! Uiterlik sowel as innerlik.  Nou is dit egter net Engels praat vir ons, en vir onse boere is dit maar ‘n moeilike taak! Die ontmoeting van die familie en vriende verloop heel goed, almal ons tipe mense, behalwe natuurlik net vir die taal. 

Op Illze se verjaarsdag, kry ons die tyding van oupa Jas se afsterwe.  Reëlings word getref dat die begrafnis eers 10 dae later sal wees. Na die troue keer ons toe vroeër terug as beplan. Terug by die huis, staan die roosmaryn wat ek by oupa Jas gekry het vol in die blom. ‘n Pers massa. Ek plaas ‘n ‘n paar takkies op die kis, dit is my manier van dankie sê vir pa…

Volgende troue, - Juandre en Callie.  Boet Sarel, wat toe al baie siek was, sê vir sy vrou, Joey, dat hy die troue gaan waarneem, al is dit die laaste ding wat hy doen! Dit reën, dit is sambrele en baadjies oral, en dit is koud, maar  Juandre en Callie glimlag net vir mekaar. ‘n Opmerking is gemaak dat hulle nog nooit ‘n bruid gesien het wat nie begaan was oor haar hare of wat as gevolg van die reën gebeur nie.  Boet Sarel se woorde aan  hulle en die gaste: “Julle het nou die seën van die Here van bo ontvang, nou kan julle maar die aardse roosblare strooi.”

Ek het met huis propvol humor grootgeword. Ons het altyd enige situasie ligter gemaak deur bloot net eerder daaroor te lag. My ma was verseker ook ‘n bok vir sports…
Ek wil net eerstens onder julle aandag bring dat indien mens ‘n kêrel in daardie tyd wou hê, moes hy defnitief eers die ouers ontmoet voordat hy enigsins daaraan kon dink om hul geliefde dogter uit te vat. My kêrel, en huidige liewe man, het toe daardie eerste ontmoeting gewaag…  My ma besluit toe om ‘n vertoning daarvan te maak, en het iets aan die onderkant van sy koppie geplak, wat maak dat die koppie nie wil loskom van die piering af nie. Toe hy ‘n sluk wou vat besef hy dat daar iets nie pluis is nie. Hy kon nie verstaan waarom die koppie en piering da nou aan mekaar vassit nie. Dit is verseker ‘n dag wat vir hom ‘n verleentheid was – so op die eerste ontmoeting - maar vir my ma dit natuurlik baie snaaks was!
My ma het baie daarvan gehou om vir mense poetse te bak. Sy het altyd eers die groepie dopgehou, en gekyk wie die “grootbek” tussen die klomp is en dan het sy besluit wat sy gaan doen en hoe haar poets gebak en gebrou sal word... Een keer het sy pannekoek gebak en gare in sekeres gesit. Die gedoopde “grootbek” van die dag het toe díe einste pannekoek gekry. Daar was inderdaad nie plek vir ‘draadjies’ loop nie en hy is mooi op sy plek gesit deur ‘n tikkie humor!
Op ‘n meer ernstiger noot dink ek weer terug aan my ma se dood. My ma is oorlede toe ek maar net 29jaar oud was. Dit was by my oom se troue, in Alberton, waar my ma vir my gesê het dat sy nie lekker voel nie. Ek het haar toe dadelik dokter toe gevat. Ek onthou dit nog asof dit net gister gebeur het. My ma het op haar arms op die groen Volksie gelê, my in my oë gekyk en gesê: “My kind, ek sal nie weer vir jou kan kom kuier nie”.
Dit was verseker ‘n baie hartseer oomblik in my lewe, maar nogtans het ek vrede in my hart gehad - aangesien ek die versekering gehad het dat my ma gereed was om Hemel toe te gaan. Dit was steeds nie werklik nie, en ek onthou ek het eenkeer daarna nog di efoon opgetel om my ma te bel, en toe besef dat dit nie moontlik is nie. Ek was toe erg geskok met die realiteit.
Ek het baie by my ma geleer en dit probeer toepas in my eie lewe. Terwyl my man in die weermag was, het hy vir Kruger, ons enigste seun, opdrag gegee om mooi na my te kyk en Mamma veilig te hou. Kruger het dan saans langs my, in die bed, kom inkruip. Dit was sy manier om my op te pas. Maar my dogters het nie op hulle laat wag nie. Hulle wou ook mos na hul ma omsien en dus moes hulle om trent rooster opstel en beurte maak wie by my in die bed slaap! Ek waardeer elkeen van my kinders so baie!
My kinders het my regtig baie baie besig gehou, wat goed is want dus was daar eenvoudig net nooit tyd om eensaam te voel wanneer my man nie by die huis was nie. Dit herinner my sommer aan ‘n insident waar twee offisiere en ‘n dwelmverslaafde die een aand aan ons deur kom klop-klop het. Soos kindertjies maar is, het hulle nuuskierigheid oorgeneem, en hulle haastig na die deur toe gehardloop. Hulle het op so jong ouderdom besef wat dwelms aan ‘n mens kan doen en die gevolge wat mens moet dra met die gebruik daarvan. En vandag kan ek as trotse ma getuig dat nie een van my kinders al ooit met sigarette eksperimenteer het nie!
Ons het die plaas verloor  - wat ‘n traumatiese ervaring.  ‘n Vriendin gee vir my ‘n sleutelhouer met die woorde: “ Wanneer die liewe Vader ‘n deur toemaak, los hy altyd ‘n venster oop”.  Alles word toe sommer beter en een oggend oppad skool toe, sê Kruger: “Mamma, weet Mamma, die liewe Here het vir ons ‘n moerse venster oopgemaak”.

Daar is so baie goeie herinneringe waarvoor ek so dankbaar is! Van roei saam met die kinders en kleinkinders op die vaalrivier by Christiana, gly saam met hulle af met die waterwurm tot saam met die kleinkinders branderplank ry by Oesterbaai. So twee jaar gelede was ons op vakansie en het in die Knysnawoud gaan stap. Vir een of ander rede, wat my nou ontgaan het, het ek vreeslik groot geskrik en na die aaptou wat uit die boom hang gegryp. Op daardie spesifieke oomblik het my seun dit reggekry om ‘n foto te neem. Dit het kompleet gelyk asof ek soos ‘n verskrikte baba apie aan die tou swaai! Dit word seker nie verniet ‘n aaptou genoem nie ;-). Tot vandag toe nog is daar talle vrae oor waarom ek aan hierdie tou gehang het. Dis sommer so ietsie kleins wat ek onthou wat nogsteeds altyd ‘n glimlag op my gesig sit!
Ons het nou onlangs die blomme in Namakwaland gaan kyk. En so het ek plat op die naat van my rug tussen die blomme gaan lê. Wie sou nou kon dink dat ‘n vrou van 67 nog soveel sports kan wees? My kleinkinders noem my nie verniet die “cool ouma” nie. Ek bak nou nog vir hulle lekker koek vir hulle verjaarsdag en speel graag saam waar ek kan.
Wanneer daar aan my gesê word dat mens so oud is soos wat mens voel, is ek seker nog ‘n tiener, en moet ek dalk verleë erken dat ek dalk selfs seker nog ietwat kinderagtig ook is. Ek lewe soos ‘n jongkind! Ek glo dat ‘n mens jou lewe moet lewe, tot die dag wat jy doodgaan – wat terwyl jy nog lewe, is jy nog nie dood nie!
Ek glo ook defnitief dat die lewe daar is om herinneringe op te bou. Ons enigste seun bly in Amerika en ons vier dogters is ver en wyd versprei oor die hele Suid-Afrika heen. Ons het altyd ‘n tradisie gehad dat ons vakansies afwissel tussen ons en die skoonouers – een vakansie hier en een vankansie daar. Met die geboorte van my kleinkinders het ek egter vir my kinders gesê dat ons die karretjie moet stop. Hulle het nie presies geweet of verstaan wat ek daarmee bedoel nie. Ek deel toe met hulle die volgende… Ons het elke oomblik benut om herinneringe saam met hulle op te bou en nou is dit hulle beurt om herinneringe saam hulle kinders op te bou en te deel. Ek gee nie om om hulle bietjie minder te sien nie, solank hulle net die beste van hulle lewe maak en dit saam hulle gesinne geniet. Ek moet erken, dis makliker gesê as gedaan, maar ek is nie hier om ‘n beperking binne my kinders en hul gesinslewens te wees nie – niemand hou van ‘n ordonderende of inmengende ouma nie ;-).
Ek het reeds op 65 afgetree, maar hou nogsteeds daarvan om eerder besig te bly. Tans is ek 67jaar oud, en doen administratiewe werk by die Skool van Sielkunde op die NWU Puk-kampus. Ek, my man en tweede oudste dogter beoog ook om volgende jaar vir 3maande Amerika toe te gaan en daar rond te reis en by my seun te kuier. Ons was laas daar met my seun se troue. Ek, en ek dink almal van ons, sien regtig baie daarna uit!
Ek vergelyk my lewe en verhoudings met my kinders met die prentjie van ‘n bootjie. Nie net het ek al letterlik saam hulle geroei nie, maar sit ek ook saam met hulle in die lewensbootjie. Ek moet erken dat die branders van die lewe soms rof is, en mens kan dit baie keer nie verhelp of verander nie, maar saam kom ons daar deur en saam stap ons as sterker mense daaruit.
As ek die herinnering van my lewe tot dusver moet beskryf, dink ek aan een woord – genot. Ek kan met eerlikheid sê dat ek elke oomblik geniet het. Ek het selfs skool geniet! Ek was ‘n prefek op skool, maar weet tot vandag toe nie hoe presies ek daardie posisie behaal het nie aangesien ek mos maar so rebellieuse strekie in my gehad het.
Ek is wel bietjie jammer oor my rebelliefase, aangesien dit van die mense na aan my seergemaak het. Dit is tog hier, op 67, waar ‘n mens se gewete ten volle inskop. ‘n Eenvoudige voorbeeld is toe my broer vir my pop ‘n geeltruitjie met ‘n bruin “pompom” gebrei het. Ek het vir hom pleinweg gesê dat dit lelik is. Dit het my egter baie gepla en ek het vir hom jammer gesê daaroor. Ek sê gewoonlik te vinnig iets sonder om daaroor te gedink het...
En daarom wil ek hierdie tikkie wysheid deel… Onthou: daar is net twee mense vir wie jy moet verantwoording doen - vir jou Hemelse Vader en vir jouself.  Indien dit wat jy doen die Here se goedkeuring wegdra en nie jou karakter skaad nie, dan weet jy jy doen die regte ding!
Dit is daarom belangrik om jou lewe voluit te leef en humor in elke situasie te bring! En onthou ook dat mens nooit te oud vir enige iets is nie, veral nie om te leer nie!

No comments:

Post a Comment