Die lewe deur gedigte


Dit is eienaardig hoe slegs klein gebeurtenisse ‘n hele kettingreaksie kan veroorsaak.  So was dit met my deelname aan die Honneursprojek  van die Psigologie Departement van die NWU.
Speel met klei! Dit het dadelik ‘n glimlag gebring. ‘n Picasso sal ek beslis nie word nie.  Twee booitjies, met twee klei poppies op  ‘n see. Dit het my laat onthou van hierdie gedig wat ek jare terug in  ‘n nostalgiese bui neergepen het:

 

Huisie by die see

Hoe stil en rustig
Is my huisie by die see
Waar ek weer kan droom en dink
Oor die lewensweë
Son son wat helder brand
Dan weer wolk en son te saam
Alles tekens van my lewensbaan
‘n Bootjie dobberend op woeste see
so sleep die lewe my ook mee
na verre see en ruwe strand,
waar sal ek dan veilig land?
U alleen weet dit o Heer
Wanneer my bootjie vas sal meer
Waar groen, groen gras en vaste land
My inwag by my huisie, in u hemelstad
(1989)

Na presies nege maande en ‘n paar dae van die getroude lewe, was die eersteling, Thealette daar – het nie veel gehelp om te beplan om eers drie jaar getroud te wees voor ons met ‘n gesin kan begin nie!  Presies 1 jaar drie maandelater is Illze daar, tot groot onsteltenis van Ouma Let , my ma. Nou die verdere verloop:

‘n Terugblik
Hoe vertel ‘n mens ‘n storie wat oor soveel jare loop?
Daar was baie trane
maar gelukkig ook baie geloof en hoop.
‘n Eerste ontmoeting, “soek en jy sal vind”
het twee mense vir goed aanmekaar gebind.
Die lewenssiklus het sy loop geneem
Lente was so bloeiselmooi
met baie vreugde en tog ook soms trane getooi
So breek die somer aan
en verander die lewensbaan
Verhuising vind nou plaas na die platteland
en word uitdagings aangepak, hand aan hand.
‘n Eersteling bruinoog dogter word gebore
en almal is baie opgetoë
Vyftien maande later
kom die volgende bruinoog dogter mater
Nou is dit weer terug na die stad
waar ons weer leer loop op ‘n ander pad
Drie jaar later, die derde rooikop, blou oog dogter besluit om te kom
en hier keer die lewe ons weer om.
By ‘n wonderlike  moeder en ouma se graf het ons gestaan
en gewonder, hoe nou verder aan?
Die weg is weer vir ons gewys
en maak  ons ons toe op ‘n plaas in die platteland tuis.
Vier jaar later, nog ‘n bruinoog dogter by,
en weet ons dat die Goeie Vader ons nog steeds lei.
Daarna, slegs agtien maande later
die bruinoog boeta woelwater.
Nou is dit beslis genoeg
en moet ons deur opvoedingsdrama en -vreugdes ploeg

Dankie vir die plaasskool, Generaal Pienaar, Klipdirf.  Dit was ‘n vooreg om die kinders daar te kon laat skoolgaan.  Ma’s wat saam met dogters netbal oeffen, ‘n geskree langs die rugbyveld, menigde geldinsamelings, pretlope - almal was betrokke. Soms ook bietjie drama, maar dit het die lewe interessant gemaak so tussen al die harde werk deur!

Al die seisoene van die jaar
het ons saam met ons kinders ervaar
die sagtheid van lentetyd
met  malsheid van somergroenigheid
herfskleure, roesbruin, ougoud, geel en rooi
met knusheid van winter, het ontplooi.
Donderstorms, ysige koue, somer hitte ondervind
met die storm en drangjare van elke kind.
Genadiglik was dit nogal gou oor
en ons kon voortgaan op die regte spoo
By ‘n graf het ons gestaan weereens
om afskeid te neem van ‘n oupa, ‘n goeie mens.

Veel het ons ook by die kinders geleer. Nou is hulle al Hoërskool toe. Een vroeë Maandagoggend in die herfs, het alles bietjie deurmekar geloop - ‘n ongeduldige ma wat almal moet organiseer sodat almal betyds kan wees – die kinders skoon stil. Langs die pad het plate en plate kosmos gestaan.  Thealette se opmerking: “Mamma dink net hoe min mense het die voorreg om in ‘n blomtuin dorp toe te ry!”  Uitgeboul deur hierdie woorde, besef ek hoe ondankbaar ons is...

Die eerste huweliksklokkie gaan lui
het die oudste nou bedui
‘n Blouoog dogtertjie ‘n jaar of wat daarna,
en skielik was dit oupa en ouma.
Die blouoog rooikop besluit  ook nou
Dit is reg om met ‘n Kalahariboer te trou
Baie jare het ook nie verloop
en hulle ‘n groenoog dogtertjie in ‘n waentjie stoot
Die oudste kleinkind was tog te bly
toe sy ‘n bruinoog boetie kry.
Vir die groenoog meisiekind in die Kalahari doer
het toe ‘n blouoog blonde sussie kom loer.
Intussen het boeta gewend sy skrede na oorsee
en moet ons dit maar aanvaar gedwee
die vierde bruinoog verlaat ook huis
en die tweede bruinoog saam met haar jongste sussie, maak hulle in die Kalahari tuis
Jare later nog ‘n blou-oog blondrooi koppie in die Kalahari
Ai, nou kleinkinders ook vyf.
Nou is dit ‘n kwessie
ons sit met ‘n leë nessie.
Maar ons is dankbaar en glo
alles word beskik deur Iemand daar Bo

Boepie en my kinders, aangetroude kinders, en kleinkinders is ons rykdom. Saam met hulle vaar ons in ‘n bootjie op die lewenssee. Die branders was somtyds baie rof, maar die kalmer waters was baie meer. Die ewewig is behou, en het ons as sterker mense daaruit gebring.
 ‘n Stukkie wysheid van my ma: Onthou daar is net twee mense voor wie jy verantwoording moet doen. In die eerste plek is dit jou hemelse Vader, en dan natuurlik jouself.  As jy dit wat jy doen weet die Hemelse Vader se goedkeuring dra en jy nie jou karakter skade aandoen nie, dan weet jy jy doen die regte ding.  Dit is belangrik om jou lewe voluit te lewe, herinneringe op te bou, humor in elke situasie te kan bring. En te onthou dat mens nooit volleerd is nie, nooit te oud is om nog ‘n ietsie te leer nie!
Nou die aftrede... Oupa Jas se ware wyse woorde as mens hom gevra het hoe dit gaan:  “Altyd goed! Genade, onbeskryflik groot!”

Genade

n   Kruis met bloed bevlek
so word ons sondeskuld bedek
Daarmee wil Hy ons maan
Altyd in geloof vas te staan
In alles Sy wil te doen
Ons met ons naaste te versoen
Al word ons dan ook lewensmoeg
Te weet “My genade is vir jou genoeg”.
2002

No comments:

Post a Comment